16/07/2025
Gebruik Fosfaatbronne wat benutbaar is deur jou diere
Met stygende insetkostes is boere voordurend opsoek na alternatiewe roumateriale om kostes te sny. Fosfaat aanvulling is duur, maar noodsaaklik vir groei, produksie en reproduksie, daarom moet daar nie net na prys nie, maar ook na die benutbaarheid van die fosfaat in ‘n bron gekyk word.
Anorganiese fosfaatbronne soos MCP, MDCP en DCP bly die beste keuse as dit by fosfaat aanvullings kom. Dit mag lyk of ander fosfaat bronne soos hoendermis, beenmeel en sedimentere rotsfosfate ’n goedkoper alternatief kan wees.
Wanneer na hierdie alternatiewe bronne gekyk word moet die volgende in ag geneem word.
Hoendermis se fosfaat inhoud is eintlik baie laag (+/-1.6 %) en daar moet redelike hoeveelhede gevoer word om aan diere se behoeftes te voldoen- hoe meer jy moet voer hoe duurder word ‘n goedkoop produk.
Die voer van hoendermis bring ook ‘n string ander probleme mee soos gesondheids risikos en is veral nie vir skape geskik nie.
Beenmeel mag dalk meer fosfaat bevat as hoendermis, maar dit bly steeds onwettig om beenmeel aan beeste en skape te voer. Die fosfaat in beenmeel varieer van so laag as 1.1 % tot so hoog as 7.3% maar kom voor in die trikalsium fosfaat vorm, ‘n redelike onbeskikbare vorm van fosfaat – met ander woorde -die diere kan nie die fosfaat benut nie.
Sedimentêre rots fosfaat is wel natuurlik en hoog in fosfaat (8 – 10 %), maar, net soos in die geval van beenmeel, is die fosfaat ook in die trikalsium fosfaat vorm. Fosfaat kan as ’n kunsmis bron stadig in die grond vrygestel word, maar die rumen is nie grond nie en is die bron van fosfaat is nie juis oplosbaar in die rumen nie en dus ook nie benutbaar deur die diere nie.
Diere sal nie onmiddelik ‘n fosfaat tekort toon nie, maar oor ‘n tydperk groei die diere swakker, produseer hulle minder melk en neem reproduksie en speen gewigte af. Soms is goedkoop op papier, duur op die dier.
Boer slim. Voer verantwoordelik. En gebruik fosfaat wat jou diere werklik kan benut.