16/09/2026
Kyk wie het ek vandag in die oprit by Kersterus raakgeloop!
’n Piepklein Ploegskaarskilpadjie (Angulate Tortoise)
Hierdie tyd van die jaar begin ons weer meer van ons klein én groter skilpad-bure in die dorp raakloop, ’n vriendelike versoek aan al ons kuiergaste en inwoners:
- Ry asseblief stadig in die dorp en kyk mooi voordat julle ry of daar nie dalk ’n skilpad onder of voor die motor is nie. Hierdie klein outjies is maklik om mis te kyk.
- En ’n belangrike versoek: al is hulle hoe oulik, moet hulle asseblief nie sommer optel, skuif of huis toe neem nie. As hulle veilig is, laat hulle eerder waar hulle is en gee hulle kans om self verder te stap.
- As ’n skilpad wel in die pad is en direk in gevaar is, skuif hom asseblief baie saggies en hou hom so laag as moontlik aan die grond. Moet hom nie hoog optel en rond dra nie – hantering kan vir hom baie stresvol wees en hy kan vloeistof verloor wanneer hy skrik. Sit hom dan neer in die rigting waarin hy reeds beweeg het en laat hom rustig verder gaan.
Ons is gelukkig om hierdie klein inwoners van Dwarskersbos hier by ons te hê – kom ons kyk mooi uit vir ons klein natuurwondertjies en gee hulle kans om hul eie rustige pad te loop. 💚