Die Pretoria-Oos Voetslaanklub is 'n Christelike stapklub wat reeds sedert 1984 bestaan, en nie aan 'n spesifieke kerk of denominasie verbind is nie. Die klub reël gedurende die jaar staptoere en ander sosiale geleenthede, met bestemmings regoor die land en selfs in Namibiё. Hierdie is 'n stapklub wat nie terloops ook vir Jesus as aanhangsel plek gee nie. Hy is die rede waarom die klub bestaan en
staan dus sentraal in die klub se aktiwiteite en in die lede se lewens. Klublede smee onderling nuwe vriendskappe en daar kan met reg gesê word dat stappers mekaar mettertyd as familie ervaar, want dit is wat ons eintlik is. Die gesamentlike stiltetye, soggens en saans, en die “praise & worship” is 'n besondere ervaring. Vanweë die aard en samestelling van die klub word alkoholiese drank en ander gewoontevormende middels nie op stappe, kampe en ander funksies of eetplekke toegelaat nie. Veral enkellopendes vind die beskermende tuiste wat die klub aan hulle bied 'n groot pluspunt wat hulle in staat stel om hulself in 'n vriendelike en veilige milieu uit te leef. Die klub is 'n nie-winsgewende organisasie wat met klublidmaatskapsgelde bedryf word. Klublede betaal hierbenewens roetegeld en vervoerkoste vir elke staptoer waarop hulle gaan, asook kamp- en toegangsgelde waar toepaslik. Kontak ons gerus vir meer inligting oor lidmaatskap en ons volgende aktiwiteit.