27/05/2024
** Istanbul **
O gaats, wat ’n skok tot die sisteem! Die lughawe was redelik maklik, maar my e-sim wou net nie connect nie, so toe voel alles anders. So deur die gesukkel om aanlyn te kom, is ons deur doeane en kry ons bagasie. Ek sien die bus detail raak en ons besluit dis hoe ons in die stad gaan kom. Bus, bietjie tram, bietjie stap…
Die bus stop en dis asof ons in ’n ander wêreld is. Karre, busse, vreemde taal en baie mense. Om die tram se kaartjie te koop, is onmoontlik, niemand verstaan nie en taxi bestuurders is knaend. Hulle vra 20 euro om ons 3 km ver te ry. Ons lag hom af en sukkel voort, hy probeer weer. 'n Ander een sien dit afspeel en bied aan om ons te vat vir 10 euro, Bargain!
Toe begin ons ry! Nog nooit so iets gesien nie. Nou paadjies, links regs, ek weet nie hoeveel U-draaie nie, maar ons maak vordering. Die verkeer is op ’n ander vlak.
Hy laai ons voor die hotel af, wat ’n verligting. Ons boek in en raak rustig in ons kamer. Braaf trek ons warm aan en gaan soek aandete. Dis besig! Dis al wat mens kan sê, elke restaurant het iemand buite wat verduidelik hoekom jy daar moet eet, alles is volksvreemd.
Vroeër het ek 'n restaurant op Google Maps gesave, ons soek hom. Kry hom, die restaurant eienaar nooi ons in, wel hy sê hy is, ons raak baie skepties oor omtrent alles.
Verstaan niks op die menu, nog ’n slim ou kom help, Annatjie kies hoender, ek lamtjops. Ahh, nou raak dit lekker. Wyn is goed, kos is ongelooflik lekker, alles word lekker. Ons sluit af met Turkse koffie en baklava, wat ’n wonderlike ervaring.
Buite is dit nog ’n malhuis toe ons terugkeer hotel toe, kinders, katte, mense, scooters, dis 11 uur, en die haarkapper is nog oop en ’n vrou laat sny haar hare. Hierdie is ’n ander wêreld.
Ons slaap lekker, eet ontbyt en besluit op ’n walking tour om die stad te verken. Kry die beginpunt in die park tussen die blou moskee en die Ayasofya kerk/moskee/museum.
Die toer begin en dis interessant om te hoor hoekom die blou moskee daar is en hoe die Ayasofya oor die eeue verander het van Christen kerk, Moslem moskee toe museum, nou weer terug, gedeeltelik moskee en museum.
Dit gaan stadig maar ons is uiteindelik om die draai en leer van die Topkapi-paleis. Ons kry so gevoel die ou probeer mens net oortuig om die belaglike pryse te betaal om in te gaan. Ons breek weg en besluit om die rooi bus te vat en deur die stad te ry.
Kry ons euros omgeskakel na lira en kry buskaartjies.
Dit beteken ons is weer terug in die mal verkeer. Dis okay, die tannie in die oorfone vertel wat ons sien en ons geniet die toer. Ons klim by die Dolmabahce Paleis af en stap bietjie rond. Drink appeltee by die restaurant tot dit weer tyd is om die bus te kry, ry verder en gaan oor die Bosphorus.
Die Bosphorus is ’n natuurlike seestraat wat deel vorm van die grens tussen Asië en Europa. Dit is nie ’n rivier nie, maar eerder ’n seestraat wat die Swartsee met die See van Marmara verbind en een van die kontinentale grense tussen Asië en Europa vorm. Dit beteken ons het nou net die bus van Europa af, Asië toe gery. Nou was ons daar ook!
Ons ry terug en klim by die Egiptiese mark af. Hier is georganiseerde chaos. Dis nou ’n mark, dis oorweldigend die kleure, ware, reuke en tot smake. Hulle laat jou proe aan Turkish delight, baklava en tot kaas. Dis baie lekker en vreemd. Dieper die mark in nog baie ander winkels, alles onder die son.
Hierdie manne verkoop, as jy maak of jy kyk dan moet jy inkom, pushy soos mens nie kan glo nie. Die enigste woord wat opkom is “overwhelmed”, maar vreeslik interessant.
Ons kies koers hotel toe en stap sodat ons verby die Grand Bazaar loop en weet waar om hom môre te kry want hy is toe op Sondae. Ons beland in die klein straatjies om hom en kort voor lank loop ons in ander toeriste raak wat ook met Google Maps loop en in al die toe deure vasloop. Na ’n paar semi-sirkels kry ons weer ’n pad waar karre ry. Nou bly ons op die groot pad en kry die hotel. Sjoe.
Ons besluit op ligte aandete en drankies op die boonste vloer, en sien hoe die son sak oor die Bosphorus seestraat met al sy verkeer.
Na ontbyt stap ons weer in die rigting van die park langs die Ayasofya. Nou dat ons weet wat om te verwag, sien ons meer en geniet al die winkeltjies langs die pad, en proe elke nou en dan Turkish delight en baklava. Ons besoek die groot blou moskee en stap deur die Hippodrome.
Sien ’n klein koffiewinkel en stap nader. Gebukkend deur die klein deurtjie, deur ’n tonnel en daar is die mooiste klein plekkie. Ons drink koffie, ek kry ’n Turkse koffie wat so mooi bedien word op silwerware met druiwesap en natuurlik 'n paar blokkies Turkish delight. Saam ’n stukkie koek is dit rustig en kalm. Tyd vir die Grand Bazaar.
Ek sit foto’s by, dis groot, bedrywig en die verkoopsmanne is daar. Ons glip uit by een van die hekke en kry middagete, baie lekker kos, maar as die rekening kom, is daar sommer kostes vir dit en dat. Die ouens kan geld maak uit toeriste.
Ons stap terug na die mooi winkels waar Annatjie Turkish delight koop om huistoe te vat. Weer proe ons, koop lekker en gaan kry ons bagasie om lughawe toe te gaan.
Wat ’n trip, soos my Pa sê, mens kan ’n boek skryf.
Dankie vir almal wat saam gereis het, comments, likes en hartjies gelos het.
Annatjie, dankie vir al die navorsing en reëlings wat dit alles moontlik gemaak het en dit was wonderlik om dit alles saam met jou te doen. Lief jou baie.