Ons Croatia storie

Ons Croatia storie Annatjie en Reinier reis deur Croatia, ons eie trip en hier vertel ek en onthou ietsie van elke dag

** Istanbul **O gaats, wat ’n skok tot die sisteem! Die lughawe was redelik maklik, maar my e-sim wou net nie connect ni...
27/05/2024

** Istanbul **

O gaats, wat ’n skok tot die sisteem! Die lughawe was redelik maklik, maar my e-sim wou net nie connect nie, so toe voel alles anders. So deur die gesukkel om aanlyn te kom, is ons deur doeane en kry ons bagasie. Ek sien die bus detail raak en ons besluit dis hoe ons in die stad gaan kom. Bus, bietjie tram, bietjie stap…

Die bus stop en dis asof ons in ’n ander wêreld is. Karre, busse, vreemde taal en baie mense. Om die tram se kaartjie te koop, is onmoontlik, niemand verstaan nie en taxi bestuurders is knaend. Hulle vra 20 euro om ons 3 km ver te ry. Ons lag hom af en sukkel voort, hy probeer weer. 'n Ander een sien dit afspeel en bied aan om ons te vat vir 10 euro, Bargain!

Toe begin ons ry! Nog nooit so iets gesien nie. Nou paadjies, links regs, ek weet nie hoeveel U-draaie nie, maar ons maak vordering. Die verkeer is op ’n ander vlak.

Hy laai ons voor die hotel af, wat ’n verligting. Ons boek in en raak rustig in ons kamer. Braaf trek ons warm aan en gaan soek aandete. Dis besig! Dis al wat mens kan sê, elke restaurant het iemand buite wat verduidelik hoekom jy daar moet eet, alles is volksvreemd.
Vroeër het ek 'n restaurant op Google Maps gesave, ons soek hom. Kry hom, die restaurant eienaar nooi ons in, wel hy sê hy is, ons raak baie skepties oor omtrent alles.
Verstaan niks op die menu, nog ’n slim ou kom help, Annatjie kies hoender, ek lamtjops. Ahh, nou raak dit lekker. Wyn is goed, kos is ongelooflik lekker, alles word lekker. Ons sluit af met Turkse koffie en baklava, wat ’n wonderlike ervaring.
Buite is dit nog ’n malhuis toe ons terugkeer hotel toe, kinders, katte, mense, scooters, dis 11 uur, en die haarkapper is nog oop en ’n vrou laat sny haar hare. Hierdie is ’n ander wêreld.

Ons slaap lekker, eet ontbyt en besluit op ’n walking tour om die stad te verken. Kry die beginpunt in die park tussen die blou moskee en die Ayasofya kerk/moskee/museum.
Die toer begin en dis interessant om te hoor hoekom die blou moskee daar is en hoe die Ayasofya oor die eeue verander het van Christen kerk, Moslem moskee toe museum, nou weer terug, gedeeltelik moskee en museum.
Dit gaan stadig maar ons is uiteindelik om die draai en leer van die Topkapi-paleis. Ons kry so gevoel die ou probeer mens net oortuig om die belaglike pryse te betaal om in te gaan. Ons breek weg en besluit om die rooi bus te vat en deur die stad te ry.
Kry ons euros omgeskakel na lira en kry buskaartjies.
Dit beteken ons is weer terug in die mal verkeer. Dis okay, die tannie in die oorfone vertel wat ons sien en ons geniet die toer. Ons klim by die Dolmabahce Paleis af en stap bietjie rond. Drink appeltee by die restaurant tot dit weer tyd is om die bus te kry, ry verder en gaan oor die Bosphorus.

Die Bosphorus is ’n natuurlike seestraat wat deel vorm van die grens tussen Asië en Europa. Dit is nie ’n rivier nie, maar eerder ’n seestraat wat die Swartsee met die See van Marmara verbind en een van die kontinentale grense tussen Asië en Europa vorm. Dit beteken ons het nou net die bus van Europa af, Asië toe gery. Nou was ons daar ook!

Ons ry terug en klim by die Egiptiese mark af. Hier is georganiseerde chaos. Dis nou ’n mark, dis oorweldigend die kleure, ware, reuke en tot smake. Hulle laat jou proe aan Turkish delight, baklava en tot kaas. Dis baie lekker en vreemd. Dieper die mark in nog baie ander winkels, alles onder die son.

Hierdie manne verkoop, as jy maak of jy kyk dan moet jy inkom, pushy soos mens nie kan glo nie. Die enigste woord wat opkom is “overwhelmed”, maar vreeslik interessant.
Ons kies koers hotel toe en stap sodat ons verby die Grand Bazaar loop en weet waar om hom môre te kry want hy is toe op Sondae. Ons beland in die klein straatjies om hom en kort voor lank loop ons in ander toeriste raak wat ook met Google Maps loop en in al die toe deure vasloop. Na ’n paar semi-sirkels kry ons weer ’n pad waar karre ry. Nou bly ons op die groot pad en kry die hotel. Sjoe.

Ons besluit op ligte aandete en drankies op die boonste vloer, en sien hoe die son sak oor die Bosphorus seestraat met al sy verkeer.

Na ontbyt stap ons weer in die rigting van die park langs die Ayasofya. Nou dat ons weet wat om te verwag, sien ons meer en geniet al die winkeltjies langs die pad, en proe elke nou en dan Turkish delight en baklava. Ons besoek die groot blou moskee en stap deur die Hippodrome.

Sien ’n klein koffiewinkel en stap nader. Gebukkend deur die klein deurtjie, deur ’n tonnel en daar is die mooiste klein plekkie. Ons drink koffie, ek kry ’n Turkse koffie wat so mooi bedien word op silwerware met druiwesap en natuurlik 'n paar blokkies Turkish delight. Saam ’n stukkie koek is dit rustig en kalm. Tyd vir die Grand Bazaar.

Ek sit foto’s by, dis groot, bedrywig en die verkoopsmanne is daar. Ons glip uit by een van die hekke en kry middagete, baie lekker kos, maar as die rekening kom, is daar sommer kostes vir dit en dat. Die ouens kan geld maak uit toeriste.

Ons stap terug na die mooi winkels waar Annatjie Turkish delight koop om huistoe te vat. Weer proe ons, koop lekker en gaan kry ons bagasie om lughawe toe te gaan.

Wat ’n trip, soos my Pa sê, mens kan ’n boek skryf.

Dankie vir almal wat saam gereis het, comments, likes en hartjies gelos het.
Annatjie, dankie vir al die navorsing en reëlings wat dit alles moontlik gemaak het en dit was wonderlik om dit alles saam met jou te doen. Lief jou baie.

Trogir**. Die laaste paar dae in Trogir was 'n opsomming van die reis in Kroasië: ou dorpies, kusdorpies, hawens en prag...
25/05/2024

Trogir**.
Die laaste paar dae in Trogir was 'n opsomming van die reis in Kroasië: ou dorpies, kusdorpies, hawens en pragtige sonsondergange.

'n Nuwe dag breek aan en ons ry uit Dubrovnik na Trogir, eers ry ons kuslangs en maak 'n draai in Ston. Ston is bekend vir sy soutpanne waar hulle al vir 4000 jaar sout maak op dieselfde metode (met hulp van die see,son & wind). Ons bewonder die mure wat om die dorpie loop en tot bo-op die koppie strek, en van daar af strek die muur na Mali-Ston, wat klein Ston beteken. Die muurstruktuur is die tweede grootste na die Groot Muur van China en kan na bewering vanuit die ruimtestasie gesien word. Na 'n heerlike burger en broodjie ry ons oor die nuwe Pelješac-brug. As dit nie vir die brug was nie, sou ons deur Bosnië-Herzegovina moes ry, wat glo 'n paar uur by die grens sou neem.

In Trogir bly ons op die eiland Čiovo, naby die Ou Stad van Trogir. Apartment Salov kan loopafstand wees, maar dit is oor die bruggie en redelik hoog teen die koppie, wat beteken ons het 'n lieflike uitsig oor die hawe en dorpie. Ons het nog die Citroën en het al geleer dat dit makliker is om verder weg te parkeer en te stap waar dit plat is.

Die eerste middag in Trogir het ons die Ou Stad verken en 'n 5000 jaar oue fort ontdek. Die ou geboue is so tussen die nuwes en oral is daar opknappings aan die gang. Alles word met sandsteen gebou, selfs die strate word opgeknap met nuwe stene. Ons is lekker vroeg by die huis vir 'n verandering en geniet broodjies, vleisie en kaas saam met 'n drinkbare wit wyn (geskenk deur ons gasvrou Ivana) op die stoep en kyk hoe die son sak oor die dorp. So vind ons uit "Ivan is die mees algemene mansnaam in Kroasië - ons 1 gasheer se naam was Ivan en ook een van die bemanningslede op die boot. Twee van ons gasvroue was Ivana".

Volgende dag is dit Zadar, heel noord, eers langs die kuspad en dan die hoofweg. Hier praat hulle glo 'n Italiaanse dialek, maar die paar woorde wat ons ken, werk nog. Die argitektuur is ook anders en lyk meer soos in Venesië. Ons gaan soek die see-orrel waar die see teen die trappe spoel en lug deur die orrelpype druk om klanke te maak. Dit is by die waterfront waar mense sit, luister en na die see kyk en ontspan.

Tydens ons wandeling loop ons die 'Men of Zadar' se bootjie raak. Die omie roei die bootjie staande en vinnig is jy oor die hawe aan die ander kant. Ons wou op die strandjie gaan swem, maar die lente windjie was net te koud. Ons stap terug na die Citroën in die dorp en vat die pad huis toe, na 'n bier en glasie wyn langs die kus.

Dis my verjaarsdag en ons gaan eet by een van die mooi restaurante, Toma, in die ou dorp. Heerlike calamari vir voorgereg en Pasticada vir hoofgereg. Dis beesvleis wat gekook word in rooiwyn en 'n sous wat gemaak is met tamatie, knoffel en speserye. Nogal anders as ander disse, want hulle gebruik min speserye. Die Babic rooi wyn gaan mooi saam die ete.

Die tweede laaste dag in Kroasië besluit ons om die eiland waar ons bly, Čiovo, te verken. Ons ry deur die klein dorpies en stop by 'n bakkery langs die karavaanpark. Die mense kamp lekker; die park is vol. Hier en daar is daar 'n karavaan, meestal motorhomes met 'n stoel of twee en 'n tafel buite. Daar is 'n lieflike strandjie om die park waar ons 'n winkeltjie kry en koffie en lemoensap drink. Dit is nou iets wat die mense doen. Dit proe nogal lekker so saam, 2 derdes koffie, 1 derde vars lemoensap.
Ons ry kruis en dwars oor die eiland en vind 'n strand en strandkroeg wat baie nuut lyk. Vars fyn klippies op die strand en ook sulke oulike strandbeddens van tou in 'n staalraam wat oor die see hang. Ons lê lekker in die son en word nat sonder om te swem.

Terug in Trogir stap ons vir oulaas deur die dorp, kry heerlike wegneem-vis en gaan sit langs die Riva en kyk na die bote en d**k terug aan die lekker dae op die Tempera.

Vir ons laaste dag pak ons iets nuuts aan. Ons kry kaartjies vir die veerboot vir ons twee en die Citroën en gaan oor na Brač-eiland. Ons was nie op die eiland met die Tempera nie, en mens kan dit sien vanaf Split. Die veerbootproses is eintlik heel eenvoudig. Jy parkeer in rye en dan ry jy net op. Ons tel, dit lyk of hy so 100 karre kan vat, dalk 'n bietjie minder want daar is ook 'n paar vragmotors wat saamry. Jy ry een kant op en by die bestemming, ry jy net aan die ander kant weer af.

Brač is een van die grootste eilande en ons ry oor na Bol waar die bekende Zlatni Rat (ook bekend as die Goue Horing) strand is. Dit is klippies, helder blou water en wind - te mooi vir woorde. Ons swem, lê lekker op die strand en stap punt toe om foto's te neem. By die strandkroeg speel die jonges se musiek en almal kuier heerlik op die bankies en stoele met 'n cocktail of 'n bier. Party drink koffie en lees 'n boek. Vakansie!!.

Ons stap deur Bol, ry terug na Supetar, verken die dorpie en haal die veerboot net met sonsondergang. Vir ons sak die son vir die laaste keer oor die Adriatiese see langs die Dalmatiese kus, waar ons twee weke gelede aan boord die Tempera gegaan het. Dit was 'n ongelooflik aangename seevakansie.

Môre begin ons terugkeer huis toe, maar daar wag nog 'n paar dae in Istanbul op ons voor die lang vlug terug huis toe.

22/05/2024
Vreeslike lekker verjaarsdag ete saam Annatjie Olivier by Konaba Toma in Trogir.
22/05/2024

Vreeslike lekker verjaarsdag ete saam Annatjie Olivier by Konaba Toma in Trogir.

**Dubrovnik**  Die bus stop nie te ver van die woonstel af nie, maar dit is 'n effense opdraand tot by Apartment Ivan. O...
22/05/2024

**Dubrovnik**
Die bus stop nie te ver van die woonstel af nie, maar dit is 'n effense opdraand tot by Apartment Ivan. Ons is 'n bietjie vroeg en wag op die trappie vir die mense om uit te check en vir die skoonmaak voor ons kan afpak. Later maak ons self ook 'n bietjie skoon waar die tannie gemis het.

Alles is nou reg en ons stap af strand toe en geniet 'n bier na die harde werk🤭. Met die bus gaan ons Dubrovnik Old Town toe en besoek 'n paar museums en maak weer 'n draai by Kop. Ek vra vanwaar die naam 'Kop' kom? Dit blyk 'n Engelse ding te wees, wat verwys na die slag tussen die Boere en Engelse by Spioenkop. Daar is 'n pawiljoen in Liverpool, by die Anfield-stadion, wat bekend staan as Kop.

Die terugrit met die bus was baie makliker.

Met nog energie stap ons af na die strand en drink 'n glasie vonkelwyn by Hotel More, in hulle grotkroeg. Oh wow, diep in die berg, in 'n grot, is die kroegie met die mooiste beligting en atmosfeer. Dit begin reën en ons stap terug en bederf onsself met 'n pizza by Scala.

Sondagoggend het ons groot planne vir baie stap. Ons stap supermark toe vir padkos, maar dit is toe. 'n Skot sien ons sukkel en vertel ons hulle het 'n referendum in Januarie gehou, en daar is besluit om terug te keer na meer familiewaardes, meeste winkels is toe op Sondae. Hy vertel ons waar ons 'n oop supermark naby die Old Town kan kry.

Ons kry 'n Uber en gaan na die Panorama-uitkykpunt, hoog bo die stad. Mense bespreek maande vooruit vir 'n tafel, maar ons is geseën en kry een, eet lekker en maak die kele nat voor ons die kronkelpad afstap terug dorp toe. Uitgeput kom ons onder en heroorweeg die plan om nog die 'Dubrovnik-mure' ook vandag te stap.

Met die Skot se aanwysings vind ons die oop supermark, koop brood, kaas en bier, en gaan sit langs twee Engelse dames op die strandmuur en eet middagete. Ons sien kans vir die mure nadat ons weer 'n draai deur die mooi ou stad geloop het, sit 'n rukkie by die hawe tot die son 'n bietjie gesak het. Ons klim die trappe aan die noordelike kant en begin stap. Van bo af herken ons nou die kerke, museums en fonteine waar ons al was. 'n Pragtige gesig om dit alles van bo te bekyk, veral die hoofstraat met die kerktoring aan die onderkant. Ons sien hoe die jonges by die Buza-bar in die see spring.

Tyd om die Ou Stad vaarwel te roep met 'n laaste bier en koffie in die hoofstraat. Ons stap vir oulaas deur die groot hek en kry die bus huis toe.

Nou is dit weer tyd vir verandering; ons word vroeg wakker en gaan soek Uni-rent waar ons ons huurkar kry vir die volgende paar dae. Die Citroën is nie soveel pret soos die Seat van vroeër nie, maar dit is wiele, die paaie is nou, en ons kan ry. Vandag gaan ons Cavtat toe, 'n bietjie die suide verken. 'n Pragtige klein kusdorpie waar ons so om die skiereiland stap en natuurlik by die oulike 'Beach Bar Little Star' stop vir 'n lafenis.

Terug in die dorp kry ons middagete by een van die restaurante op die Riva, voor ons terug ry na Lapad. Ons maak 'n laaste draai by die see om die son te sien sak en kom stokflou terug by die huis.

Google reken ons het die drie dae in Dubrovnik amper 50 km gestap. Môre vat ons die Citroën en ry noord na Trogir.

** Heerlik gekuier op die Tempera **Na Sipan het ons netso regsom gedraai en 'n dag vertoef in Slano. Dis 'n klein dorpi...
18/05/2024

** Heerlik gekuier op die Tempera **

Na Sipan het ons netso regsom gedraai en 'n dag vertoef in Slano. Dis 'n klein dorpie wat lê in 'n baai, net 'n klipgooi weg van Dubrovnik. Hy het 'n ryk geskiedenis wat terug gaan na die prehistoriese tydperk, met spore van 'n Romeinse vesting op die heuwel Gradina. In 1399 het Slano onder die bewind van die magtige Republiek van Ragusa geval.

Dis die eerste dag wat ek tyd vat om bietjie boek te lees terwyl Annatjie deur die dorp gaan stap.

Terwyl ons lekker seabream eet vaar ons Dubrovnik in. Twee groot MSC passasiersbote lê in die hawe, ons weet sommer hier gaan dit besig wees. Ja ons moet oor drie bote hop om aan land te gaan.
Met buskaartjies is ons en die Aussie-dames na die 'Old Town' waar ons oor die brug stap deur sy beroemde Pile gate. Oh wow, dis groot. Groter as van die dorpies op die eilande. Pragtig, dit gaan ons 'n paar dae vat om deur te stap en te sien wat hier te siene is en alles te beleef.

Dubrovnik, die 'Pêrel van die Adriatiese See’, is 'n stad met 'n geskiedenis so ryk en volkleur soos die blou water en rooi sonsondergange. Gestig in die 7de eeu, het Dubrovnik, of Ragusa soos dit eens bekend was, uitgegroei tot 'n kragtige handelsstad in die 13de eeu en het as 'n vrye staat gefunksioneer tot die 18de eeu. Alles hier is so mooi bewaar, mens kan dit nie glo nie.

Ons stap terug boot toe na 'n lekker bier in die hawe waar die 'Black water' tonele van Game of Thrones geskiet was.
Tweede laaste aand op die boot en die chef verbaas ons weereens met sy kook vernuf waar ons aansit vir die Captains dinner. Na ete kuier almal op die deck en geniet 'n wyn, omring met die stadsliggies.
Saterdag oggend groet ons ons nuwe vriende op die hawe en almal slaan hulle eie koers in.

Ons kry 'n bus en ry om die baai, want ons het nog so paar dae hier in Dubrovnik, waar ons in die Lapad area oorbly.

** Dalk is dit Dinsdag of Woensdag.  Die dae vloei so in mekaar; ons leer al die mense op die boot beter ken met elke et...
16/05/2024

** Dalk is dit Dinsdag of Woensdag.
Die dae vloei so in mekaar; ons leer al die mense op die boot beter ken met elke ete, of dit nou een van die groot middagetes op die boot of 'n tradisionele ete op 'n eiland is.
Ons vertrek altyd vroeg, so 7h uit die hawe, ontbyt, en dan is dit 'n swemstop iewers waar die see en wind stil is teen die kus. Swem en son vir so 2 of 3 ure voor middagete op die boot. Die toerbestuurder vertel dan die geskiedenis en gee aanduidings van die interessante plekke om te besoek op die eiland en dorpie.

Ons vaar uit die hawe in Stari Grad op die stil water na die stad Hvar. Besige hawe, al die bote wag buite en kom dan later die middag in om vas te meer. Ons gaan aan wal met 'n watertaxi en as 'n groep besoek ons die fort hoog bo die stad. Dis waar ons 'n mooi uitsig het oor die dorp en kan sien hoe al die bote inkom vir die nag. In die dorpie besoek ons 'n klooster waar kant gemaak word van die 'stringe' van die aalwyn plant (Agave lace).Die non wat kwalik Engels verstaan of praat connect met Annatjie en gee vir haar 'n paar stringe van die vlas in 'n kaartjie toe gemaak. Hvar se geboue is spierwit in die dag, en prentjiemooi as die ligte aankom.

Die suidewind kom op, en die reisplan verander, ons gaan nie meer Vis toe nie, en ons vaar na Korčula. Klein dorpie en nog baie tradisioneel. Hier besoek ons 'n kroeg hoog bo in die lug,waar die drankies met 'n mini hysbak opgestuur word. Saam met Vicko, die toergids, en 'n klomp ander medereisigers, gaan eet ons Peka by een van die klein villages. Al die mense in die dorpie het dieselfde van, geen straatname of huisnommers nie,die posman ken almal. Ons eet heerlike tuisgemaakte macaroni as voorgereg, die hoofgereg is sagte vleis en groente wat op hulle tradisionele manier op kole gaargemaak word.
Vroeg uit oppad na Mljet, die wind waai nog erg, en die see was nog nie so rof nie. Ons stap deur die oudste nasionale park in Kroasië en vertoef so om die kerkie uit die 12de eeu.

So saam met middagete vertrek ons weer, die wind stoot erg, en die golwe laat deure klap en 'n paar goed rondskuif. Vanaand oornag ons in Šipan, 'n baie klein dorpie. Hier kom alles tot rus. Ons 'barbecue' op die boot (maar die vleis was in die kombuis gebraai). Heerlik geëet en gekuier op die dek, terwyl die son rooi in die agtergrond sak.

As gevolg van die wind en roete verandering is ons al môre in Dubrovnik. Almal wonder of die weer môre beter gaan wees.

Dag 5 en 6: Op die TemperaVandag verander alles. Ons gaan aanboord die Tempera wat ons huis vir die volgende week sal we...
12/05/2024

Dag 5 en 6: Op die Tempera

Vandag verander alles. Ons gaan aanboord die Tempera wat ons huis vir die volgende week sal wees.

Ons tasse is gepak, en ons stap vir die laaste keer oor die promenade in Split. Die vriendelike Tempera crew ontvang ons, en die reëlings word vinnig afgehandel. Oor so twee uur gaan ons vertrek, so ons maak nog 'n laaste draai deur die mark voordat ons aan boord klim.

Ons kajuit is groot en gemaklik, op die boonste vlak, amper heel voor. Ons vaar uit Split na Makarska, waar ons in die hawe sal oornag. Dit is heerlik om so bietjie stil te sit en die pragtige berge op die Dalmatian kus te aanskou.

Makarska het pragtige strande, en ons geniet die sonsondergang. Die volgende oggend word ons wakker met die geluide van die boot wat die hawe verlaat. Dit is bewolk, maar vreeslik mooi want die water blink soos 'n spieël, hulle noem dit 'bonaca'.

Die son breek deur, en ons maak 'n stop in 'n klein baai om te swem. Swem, SUP, ry kanoe, sit in die son, drink 'n bier. Dit is hoe die volgende week gaan wees: groot middagete aan boord, stop in nuwe hawe, uitstappie om die dorpie te verken, kuier saam mederesigers. Vandag gaan ons wynproe op 'n plaas waar daar al vir die afgelope 2300 jaar geboer word op die Stari Grad vlakte.

Die Stari Grad-vlakte op die eiland Hvar is 'n kultuurlandskap wat sedert die 4de eeu V.C. prakties onveranderd gebly het. Dit is oorspronklik deur die Grieke van Paros gekoloniseer. Hulle het die vlakte in 73 plotte op gedeel om al die families 'n kans te gee om suksesvol te wees. Die oorspronklike landbouaktiwiteit in hierdie vrugbare vlakte, hoofsaaklik druiwe en olywe, het van die Griekse tyd tot vandag nog behoue gebly.

'n Rustige aand lê voor en môre begin ons weer vroeg. As die weer mooi is, maak ons 'n swemstop vir 'n paar ure, geniet middagete, en verken die nuwe hawedorpie.
🌞🚢🌊.

'Rinse en repeat' vir sewe dae. Dit gaan 'n week van rus, avontuur en ontdekking wees!

Dag 4: SplitDie dag begin met die oopswaai van die venster met die uitsig op die hawe langs die Riviera (Riva). Op die R...
11/05/2024

Dag 4: Split
Die dag begin met die oopswaai van die venster met die uitsig op die hawe langs die Riviera (Riva). Op die Riva kry ons 'n kaart en 'n "walking tour"-gids by die toeristekantoor. Met ons oorfone in, begin ons stap en luister.

Die stad het ontstaan en is om die Diocletian Paleis gebou. Dit is een van die best bewaarde monumente van die Romeinse bou-erfenis in die wêreld. Die paleis is oorspronklik gebou as 'n luukse villa vir die keiser se somerverblyf, maar later is dit aangepas om 'n Romeinse militêre kamp (castrum) te wees. Die paleis se oorspronklike voorkoms het oor die eeue heen verander deur aanbouings en aanpassings, maar na die Tweede Wêreldoorlog is die oorspronklike uiterlike herstel. 🏛️

Dit laat mens baie d**k aan die Roman Forum in Rome, behalwe dat dit nog as 'n geheel staan en ten volle gebruik word.

Die katedraal is nog soos hy oorspronklik in die 12de eeu gebou is, selfs die houtwerk is nog eg. Die paleis is vol winkels en eetplekke, en die vismark is nog steeds aan die gang. Ons koop diepgebraaide anchovies en tjips en geniet dit rustig in 'n park langs die paleis.

Ons verken die boonste dorp en gaan terug vir 'n siesta waar ons bly. Nou is dit tyd om die Marjan-trappe te gaan soek en die dorp van bo af te beskou. Daar is baie trappe (iemand wat verby gestap het sê hy het 470+ getel) tot hoog bo by die Tekegrin-piek waar die landsvlag trots wapper.

Die dag word afgesluit met 'n broodjie wat Annatjie gemaak het, en 'n bottel wyn wat ons by Spar gekoop het. Ons sit op 'n bankie, kyk uit oor die hawe, en stap na die hoofplein in die paleis waar daar musiek gemaak word.

Split was so gemaklik, ontspannend, en tog vol lewe. 🌟

Address

Sandton

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Ons Croatia storie posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Business

Send a message to Ons Croatia storie:

Share

Category