The Pilgrimage of Hope is a network of routes that leads to Cape Agulhas the most southern point of Africa. Die Pelgrimstog van Hoop is pelgrimroete wat die oudste kerke van ons land besoek. Die roete kan gevolg word vanaf Stellenbosch of Robertson en loop deur die Overberg tot by Agulhas aan die Suidpunt van Afrika. Pelgrims kan ook korter dele stap. Skryf in by [email protected]. Daar is ook 'n
boek - gedruk en in pdf formaat - beskikbaar, die Overberg Pelgrimstog van Hoop (Overberg Pilgrimage of Hope) wat ‘n volledige gids is vir persone en groepe wat oorweeg om hierdie Pelgrimstog te stap. Dit is geskryf deur Adrienne Bester en Frederick Marais wat deel was van die eerste groep wat die roete gestap het. Die roete neem jou deur van die mooiste dele in ons land – onder meer Greyton, Genadendal, die Hemel-en-Aardevallei, Walkerbaai en Baardskeerdersbos. Die roete volg ook die geskiedenis van die land en loop deur ou sendingstasies soos Genadendal en Elim met hul uitsonderlike verhale en argitektuur. Die gids verduidelik wat ‘n pelgrimstog behels en hoe dit as ‘n geestelike dissipline beoefen kan word. Daarna volg volledige inligting oor die voorbereiding vir die tog, die verkryging van permitte en wat die koste behels. Daar is ook ‘n afdeling oor die geestelike dissiplines wat op die tog beoefen kan word. Daarna volg ‘n dag-vir-dag roetebeskrywing met GPS-merkers wat met Google Maps versoenbaar is. Dit sluit in nuttige pelgrimsinligting oor die dorpe en die beskikbaarheid van winkels en apteke langs die pad, en die kontakbesonderhede vir oornagherberge en eetplekke. Met hierdie gids kan enige groep sonder moeite hul eie stap op die Overberg Pelgrimstog van Hoop beplan. Die gids is in gedrukte sowel as elektroniese formaat (PDF) en in Afrikaans en Engels beskikbaar. Die gedrukte handleiding is ontwerp om maklik in ‘n rugsak of reënbaadjie se sak te pas. Dit is ook in PDF-formaat vir selfone en tablette beskikbaar. Gedrukte kopieë van die boek kan by [email protected] bestel word @ R120,00 per kopie. Dui ook in die e-pos aan of die handleiding gepos (R45) of gekoerier moet word (R99). Die bankbesonderhede vir elektroniese oorbetaling sal per e-pos aangestuur word. Vir meer inligting kontak Adrienne Bester by [email protected] of 021 808 3382 tydens kantoorure.