12/08/2025
Daar staan ons bekers op die rak in die gang van ONS HOTEL , verskillende bekers , onderandere die
- Kampioen Friesbul (die groot vet beker)
- Kampioen Haan (die skraler langer beker)
en nog 'n hele paar ander. Maar die stories en die wenners ken ons nie.
Daar was eens ’n leerling wat elke dag ure geoefen het,
in wind en in son,
om die skool se tennis kampioen te wees.
Sy hande seer,
sy voete het gebloei,
maar hy het deurgedruk ,
want die dag van die groot finaal moes sy naam bo-aan wees.
En so was dit.
Met applous en trots het hy die trofee ontvang.
Jare later, toe die skool se stoor skoongemaak word, het iemand die trofee in ’n kas gevind en in die asblik gegooi, want dit was iets van vergete se jare.
Die letters was dof,
die silver aangeslaan.
Niemand het onthou wie hy was nie.
So kan ek nie anders as om te wonder deur wat die wenners van die bekers wat nou in Ons Hotel se gang staan deurgegaan het om die trofee om hoog te hou nie.
Hoeveel rusies was daar nie dalk?
Hoeveel kwaai vriende dalk?
Hoveel oneerlikheid dalk?
Soveel van ons gee
ons tyd,
ons energie,
ons hartklop
vir erkenning,
vir applous,
vir daardie oomblik van aanvaarding.
Maar die waarheid?
Dinge verweer.
Mense vergeet.
En dit waarvoor ons geveg het, beland soms saam met ou stoele en stukkende sporttoerusting op die ashoop.
Die vraag is dus:
Waarop fokus ons regtig?
Op wat hou?
Op wat ewig is?
Op die dinge wat nie met stof bedek word nie?
Liefde.
Karakter.
Getrouheid.
Respek.
Omgee.
Die mense wie se lewens ons aanraak.
Dít is die ware trofees,
dié wat nie in ’n kas staan nie,
maar in harte leef.