
10/08/2025
Soul & Sanctuary Soirée – Vrouedagviering vol Geure, Liefde en Musiek
Op Vrouedag, 9 Augustus 2025, het die Great White House Restaurant in Kleinbaai ’n warm toevlug geword vir almal wat sielskos, inspirasie en mooi musiek gesoek het.
Van die geurige gin van die L-Gin-vrouetrio, tot Chef Chris se stories oor hoe klank en smaak saam herinneringe skep – elke oomblik was ’n ode aan die mooi in die lewe.
Toe stap Nianell op die verhoog – en die atmosfeer verander. Met haar engelstem het sy harte oopgesluit en soms trane laat vloei. Bekende liedere soos Life Simplified, Who Painted the Moon Black, Die Oomblik is Nou en How Beautiful Love Can Be het soos warm lig oor die gehoor gestroom. Tussen die note deur het sy haar kernboodskap gedeel: Ware liefde begin by jouself. Jou lig is jou eie geskenk aan die wêreld.
Na afloop van die musiek het die kombuis van The Great White House gaste bederf met ’n fees van soet en sout vingerhappies. ’n Groep dames wat saam in 1981 gematrikuleer het, het hul herdenking hier gevier met ’n herinnering dat ware vriendskap ook ’n vorm van liefde is.
Teen sononder het almal huis toe gegaan met vol harte, warm glimlagte en die wete dat hierdie Vrouedag meer was as net ’n viering, dit was ’n geskenk vir die siel.
Foto's Janine Taylor & Sarah Taylor